
=====================================================================
Maak ore en hart oop vir pleidooie (AV 4:4)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Maak ore en hart oop vir pleidooie

Abraham Phillips   pleit om aandag aan die Afrikaansspreker wat in 'n ou bedeling gely het en in 'n nuwe deur die afskaling van Afrikaans 
opnuut benadeel word.

EK skryf hierdie artikel met 'n swaar gemoed. Nie oor Afrikaans self nie, maar oor die sogenaamde dominante Afrikaanssprekende.

In 1992 het ek reeds in die Verdwaalde Land geskryf   nog 'n kwessie wat met haat te doen het, is die twis oor die taal Afrikaans. Die 
swart mense sal baie versigtig hieroor moet wees. Apartheid het niks met Afrikaans te doen nie.

Die feit dat die opstellers van apartheid Afrikaanssprekend is, is bysaak. Baie Engelssprekendes het apartheid uitgevoer en ook daartoe 
bygedra. Daarby is amper die hele bruin gemeenskap se huistaal Afrikaans. Dit is in elk geval hulle wat hom lewendig hou.

As Afrikaans vervang word, sal die hele bruin gemeenskap ontgogel word, en dit sal baie hartseer en ellende tot gevolg h, net so erg as 
wat apartheid aan hulle gedoen het. Adolf Hitler het Duits gepraat, maar   geen mens kan die Duitse taal verkwalik vir wat Hitler gedoen 
het of waarvoor hy gestaan het nie.

Verdwaalde Land het in 1992 verskyn. Hierdie   pleidooie is dus reeds voor die algemene verkiesing van 1994 gelewer. Ek het daarna 
voortgegaan om letterlik te soebat en te waarsku, maar tevergeefs. Hierdie land het nog altyd mense in beheer opgelewer wat hulle nie aan 
ander steur nie, selfs vir hulle lag.

Die leser kan dus my beswaardheid verstaan. Om voort te gaan om morele kwessies en feite vanuit die haglike gebiede te gee, is blykbaar 
tydmors.

Ek kry geen steun as ek voortdurend s -- soos in 'n artikel van my wat in Die Burger van 19 April 1997 verskyn het -- dat   'n land dit 
nie kan bekostig om iets soos 'n taal wat reeds in al sy vorms gevestig is, af te breek nie. (Hoe bevoorreg of onregverdig daardie taal ook 
al sy status verkry het.) Dat Afrikaans gelukkig of ongelukkig histories met Suid-Afrika se verdruktes vervleg is. Dat jy die twee nie van 
mekaar kan skei nie. Dat jy nie verder hoef te gaan studeer om te besef dat Afrikaans die beste van alle dinge in staat is om standvastige 
vrede en versoening in ons land te verseker nie. Dat die land dit nie kan bekostig om miljoene bruin en swart Afrikaanssprekende mense van 
die ekonomiese lewe, die geestes- en natuurwetenskappe af te sny nie.

Kortom, wat gaan in die toekoms van hierdie miljoene mense word? Straatvers, klipkappers?

Dit is geen oordrewe stelling as ek in die artikel van 19 April s dat ek 'n roepstem vanuit die duisternis is nie. Dis die duisternis van 
'n verdrukkende en vernederende stelsel wat was en waarin teenstand en waarskuwings nie geduld of na geluister is nie.

Nou het ons weer 'n bestel waarin klasseverskille in verband gebring word met die taal wat jy praat. Ook in hierdie bestel word teenstand 
en waarskuwings nie geduld nie, wat die pyn soveel erger maak. My pyn slaan na blatante woede oor as ek sien en besef dat van 1992 af die 
blanke gemeenskap en organisasies hulle bitter min aan mense soos ek steur.

Dat hulle blindweg voortgaan met dit wat hlle dink reg is, maar in die proses miljoene Afrikaanssprekende bruin en swart mense verder 
vervreem. Hulle dink hulle doen goed, maar nie as hulle voortgaan om meningspeilings te glo wat verkeerdelik bevind dat bruin mense apaties 
teenoor Afrikaans staan omdat hulle in 'n Afrikaanse gebied woon nie.

Hulle dink hulle doen goed, maar hoe kan dit wees as nege uit tien blankes na Engels oorslaan wanneer dit hulle pas en s die indruk wek 
dat hulle skaam is vir Afrikaans? Hulle dink hulle doen goed, maar hoe kan dit wees as die Wes-Kaap met sy meer as 64% Afrikaanssprekendes 
met 'n hoofstad en omstreke sit wat vinnig lyk of dit Engeland in die kleine is? Hulle dink ook hulle doen goed, maar hoe kan dit wees as 
hulle verder in die vyande van Afrikaans se kaarte speel deur 'n onafhanklike TV kanaal te wil oprig? Hulle behoort te weet dat dit die 
verarmde bruin mense, wat so iets nie kan bekostig nie, verder van hulle en die Afrikaanse taal gaan vervreem.

Soos ek reeds genoem het, soebat en waarsku ek reeds van 1992 af vir en oor Afrikaans. Ek kry geen hulp nie. N daardie artikel van 19 
April het die Afrikaanssprekende, di wat so lief vir die taal is, soos gewoonlik soos die graf geswyg. 'n Tagtigjarige pensioentrekker van 
Boston in Bellville was die enigste mens wat op daardie artikel gereageer het. Hy het amper 'n hele dag na my gesoek, uiteindelik my nommer 
in Worcester gekry en my gebel. Hy het my hartlik uitgenooi om hom tuis te kom besoek. Daardie pensioentrekker is 'n gewone mens soos ek, 
iemand wat weet waarvan ek praat, of hy nou blank is of nie. Hy weet ek en hy is in dieselfde skuitjie in 'n geveg om oorlewing vir ons 
taal, Afrikaans.

Ek bespeur ook 'n traak-my-nieagtige houding of selfs minagting jeens my boeke. Hulle is geskryf in die Afrikaans wat miljoene gewone mense 
praat. Dis ook geskryf om die Afrikaanse letterkunde deel te maak van die lewe van die gewone bruin Afrikaanssprekende, 'n lewe wat blankes 
nie ken nie.

Maar wat gebeur? f (hoofletter O met aksent asseblief) hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie, f hulle maak die fatale fout om my werk 
te vergelyk met hulle letterkunde. Geen wonder die gewone bruin mens wil nie boeke skryf of boeke lees nie.

Al hierdie teenstrydighede binne 'n taalgemeenskap dui daarop dat daar groot fout moet wees. Geen taal kan bly voortbestaan of groei as 'n 
deel van sy sprekers hom beheer en alleen opeis nie. Ek hoop dat alle Afrikaanssprekende mense sal wakker skrik, en soos daardie oom van 
Bellville regtig iets vir die taal en sy mense sal begin doen.

Hierdie artikel is heel waarskynlik my laaste vir en oor my geliefde taal, Afrikaans. Die rede daarvoor is baie duidelik. 'n Bruin mens, 
veral een uit die werkersklas, word nie gesien, gehoor of geken nie. Dit lyk of Afrikaanssprekende bruin mense gedoem is van geboorte tot 
sterfbed. Hulle kry nie meer werk nie, van hor onderwys moet hulle vinnig begin vergeet, en van ekonomiese bemagtiging waaroor almal so 
spog, is daar geen sprake nie. Die spyker word finaal in hulle doodkis gekap as hulle enigste hoop vir 'n beter lewe, hulle taal, 
Afrikaans, versmoor, doodgewurg en weggesmyt word.

Ek het nog nooit van iets weggehardloop of daarvoor gekruip nie. Apartheid kon my en my familie nie breek nie. Hierdie bestel sal dit ook 
nie doen nie. Die enigste werklike rede hoekom ek die vyande van Afrikaans hul sin gaan gee deur te swyg, is omdat ek en mense soos ek so 
min mense in Suid- Afrika ken -- selfs onder ons sogenaamde leiers in die bruin gemeenskap -- wat die bruin mense se omstandighede, pyn en 
frustrasies verstaan en van wie ons opregte hulp, waardering en meelewing ontvang. Abraham Phillips   is die skrywer van Verdwaalde Land,   
Erfenis van die Noodlot en   Die Messiasbende.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av442.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Oktober 1997 /// Besef die waarde van Afrikaans (AV 4:4) /// Maak ore en 
hart oop vir pleidooie (AV 4:4) /// Hier skep veeltaligheid 'n wen-wen-situasie (AV 4:4) /// Afrikaans moet bevryding gegun word (AV 4:4) 
/// Tweekoppige reklame in Brussel (AV 4:4) /// Tale se kanse in akademiese wreld (AV 4:4) /// Hoe kru ook al die kwaal, Afrikaans kn 
heel (AV 4:4) /// Nederlandse skoolkinders lees weer Afrikaans (AV 4:4) /// 'Ek soek nie Afrikaans op blikkies nie' (AV 4:4) ///

